NG Tygerpoort

Hoekom skryf ek?

 

Die regte vraag sou eerder wees “Hoekom leef ek?” Skrywers sê dat hulle sukkel om te verduidelik waarom hulle ink op papier uitmors of die toetssleutels van hulle rekenaars aanrand. Dit is vir hulle ‘n pynlike wroeging om sin te maak van hierdie verterende obsessie om wilde woorde te vang en in te span.

 Antjie Krog skryf omdat sy woedend is. Stephen King en Margaret Atwood het volledige boeke geskryf oor skryf en oor die doel daarvan. Stephen Conrad, in die ryk voorwoord tot “The nigger of the ‘Narcissus’ “, verduidelik op aangrypende wyse dat die skryfkuns die soeke na waarheid is en verwys na die belangrike beginsel van “delight and wonder”.  Party probeer dit verklaar as ‘n vorm van selfanalise en selfverwesenliking en ander beskou dit as om iets “terug te gee” aan die mensdom. 

 Dit is eenvoudig. Ons skryf omdat dit sonde is, die oersonde. Ons skryf omdat ons God wil wees. Ons wil skep en vir ewig lewe, soos God. Ons staan in verwondering oor dit wat ons sien en andersins waarneem en ons wil dit vir ons lesers oorvertel, herskep met ander woorde. Ons wil hê hulle moet sien wat ons sien en glo wat ons glo. Ons waarheid moet hulle waarheid word. Ons wil vir hulle ‘n parallelle heelal, identies aan ons heelal, skep. Ons wil hulle god wees. Hoekom? Dit is die vraag. Hoekom inderdaad. 

 Die antwoord is dat ons skuldig is aan daardie terminale en ongeneeslike oersonde wat ons in ons gene met ons saamdra van ons geboorte af. Ons wil soos God wees, nee ons wil sommer self god wees. In Genesis 3:4-5 vertel die skrywer hoedat die slang, die oorspronklike leuenaar, God tot leuenaar maak deur te sê dat, “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van die boom eet en dan sal julle soos God wees, deurdat julle alles kan ken.” Dit is waar dit begin het, ook hierdie brandende, siek begeerte om te skryf. Ons wil daardie kennis en die waarheid ons s’n maak. Ons soek God se waarheid en ons wil dit hê. 

 Party skrywers en veral baie aspirant skrywers wil dit op ‘n baie letterlike manier hê en doen. Hulle soek die roem, mag en geld wat met ‘n “suksesvolle” skrywersloopbaan ge-assosieer word. JK Rowling het in ‘n baie kort tydjie gevorder van arm tot een van die tien rykste mense in Brittanje en baie skrywers wil soos sy wees. Geld, roem, mag. Dis hoekom hulle skryf. Is dit verkeerd? As hulle in die proses goeie letterkunde skep, is dit steeds verkeerd? Is dit werklik ‘n vorm van die oersonde? Om soos God te probeer wees? Net God weet. Net Hy weet of dit sonde is en of Hy eendag die finale vonnis sal voltrek.

 Ons weet wel dat ‘n ongesonde obsessie en versugting na roem, eer en geld aan die een kant ‘n effektiewe turbo aanjaer na sukses kan wees. Alle suksesvolle sportmanne, sakemanne, politici en ook kunstenaars getuig dat, as hulle eerlik is, dat hulle van kleins af die droom van sukses gehad het en dat hulle dit as’t ware reeds lank voor die tyd “kon sien”. Hulle kon die eindresultaat vooraf visualiseer, omdat hulle dit so graag wou gehad het. Hulle wil suksesvol wees, meer as die gewone mense met hulle pakkie toebroodjies op pad werk toe, wil wees. Die klem moet hier op daardie “wil” wees. Suksesvolle skrywers wil suksesvol wees en party wil suksesvol wees omdat hulle wil beroemd en ryk en invloedryk wees. Hulle wil, meer as gewone mense.

 Hemingway het onder andere geskryf soos hy gedoen het omdat hy beter as sy tydgenote wou skryf en wees. Hy het hulle met ‘n mate van minagting bejeën en het in sy verbeelding skryfkompetisies met hulle gehad. Hy was wel ryk en beroemd, maar sy primêre dryfveer was nie die roem en geld nie, dit was die begeerte om ‘n beter vakman te wees wat hom gedryf het, ‘n ander vorm van selfobsessie. Dit het vir hom gewerk soos wat dit vir Wilbur Smith en ander werk om te skryf vir geld. Hoekom skryf Deon Meyer so meedoënloos, dieselfde boek oor en oor? Geniet hy dit nog om te skryf of het dit net nog ‘n werk en ‘n baie suksesvolle bron van geld geword?

 Daar is ‘n prys wat betaal moet word wanneer ‘n mens god wil wees, wanneer jy Sy Naam, Sy Koninkryk en Sy Wil, jou eie wil maak. Die prys is niks minder as jou siel nie. Dit is al. Jy kan enige doel bereik, as jy weet presies wat dit is wat jy wil hê. Roem, geld enigiets. Jy kan dit kry, jy moet net eers uitvind presies wat dit is wat jy wil hê. Dan kan jy dit kry. Maar daar is altyd ‘n prys en as jy die oersonde moet pleeg in die proses, is die prys jou siel en jou lewe, finish en klaar.

Baie suksesvolle en minder suksesvolle skrywers sukkel met depressie, huweliksprobleme, verslawings en baie pleeg die uiterste en finale Ek-Probeer-God-Wees daad, selfmoord. Hemingway het selfmoord gepleeg, na ‘n lang gespook met anti-depressante en elektrokonvulsiewe terapie. Die lys is skokkend lank. Ingrid Jonker, Eugene Marais, Primo Levi, K Sello Duiker, Yuri Abramov, Sylvia Plath, Virginia Woolf, Cale Young en nog ‘n paar honderd ander.

 Baie skrywers is ongelukkig en in baie gevalle is hulle permanente staat van ongeluk juis presies dit wat hulle dryf om te skryf. Hulle kan nie skryf as hulle nie ongelukkig is nie. Om God te probeer wees eis sy tol. Dit vra dat jy jou siel verkoop, letterlik en figuurlik.

 Margaret Atwood skryf in haar boek oor skryf, “Negotiating with the Dead”, dat daar ‘n diepgaande onderhandelingsproses tussen die skrywer en sy onderwerp en karakters is. Die onderwerp en karakters moet hulleself en hulle stories aan die skrywer gee, in ruil waarvoor die skrywer aan hulle die lewe self sal gee. Sy sal vir hulle god wees as hulle hulleself aan haar ontbloot en onderwerp. Sy gee lewe, hulle gee die storie. Op die ou einde is dit hoekom sy skryf en hoekom sy lewe.

 Waar laat dit die gelowige christenskrywer? Is dit dan verkeerd om te skryf? Selfsugtig? Die oersonde in al sy afskuwelike naaktheid? ‘n Poging om die Lewende God van Sy troon af te stoot?

 Die regte christen lewe nie ter wille van homself nie. Hy lewe ter wille van sy medemens en om aan God die eer te bring. Om Sy naam te verheerlik, om Sy koninkryk te laat kom en om Sy wil (in krasse teenstelling met my wil) te doen. Moet die christenskrywer dan net soetsappige storietjies met ‘n sterk evangeliese inslag vir C** boeke skryf? Of dagstukkies of geestelike handboeke of prekerige sketse? Bewaar ons daarvan asseblief.

 Die regte christen leef in hierdie wêreld, elke dag heeldag, nie net Sondae in ‘n gereformeerde of charismatiese kerk met blommetjies en tee en diakens en Dinsdagaande vir ‘n uur by die omgeegroep nie. Ons leef. Voluit. Orals. Elke oomblik. Vir God. En medemens.

 Ek skryf omdat ek God se oë, Sy hande, Sy ore, Sy voete, Sy pen, Sy papier, Sy rekenaar  en Sy liefde in hierdie mooi, walgende, wonderlike en stukkende wêreld is en wil wees. Ek sien wat hier gebeur, ek voel dit, ek hoor daarvan, ek proe dit en ek weet wat dit aan God se mense, alle mense, doen. Ek wil dit vertel. Ek wil vertel van God se skepping want ek staan in verwondering daarvoor. Ek wil vertel om God te verheerlik. Nie om myself te verheerlik nie, om God te verheerlik. Om Sy koninkryk te laat kom, om Sy wil te doen. Nie my wil, my koninkryk, my geld, my roem en my mag nie. Ek wil vertel van mooi goed en lelike goed, van woestyne en die see, van drome en mislukkings, van skepe en beeste, van ‘n skaduwee en ‘n ster, van oorlog en van uitvindings, van ‘n swartwitpens en van ‘n vliegtuig, van genade en van ‘n pizza, van die geskiedenis van ‘n lank vergete onreg en van ‘n resep vir askoek, van ‘n fontein en van ‘n disko. God het dit alles gemaak en ek beleef dit, leef in dit, rondom en deur dit. Deur te skryf oor God se werk skep ek die parallelle wêreld waarin God se werk gesien kan word deur my leser. My leser kan ervaar dat God leef, dat Hy hier is, dat Hy omgee. Dat Hy woedend is, dat Hy bly is, dat hy liefde is, dat Hy skep, dat Hy red, dat Hy genadig is.

 Saam met Joseph Conrad is ek op soek na die Waarheid. Maar wat is die waarheid? Snaaks, dit is presies wat Pontius Pilatus gesê-vra het toe die grootste en enigste Waarheid reg voor hom gestaan het. Jesus Christus. Uit Wie, deur Wie en tot Wie alles geskep is. Ja elke enkele ding wat bestaan is deur Hom en vir Hom geskep.

 Die eienaardige ding is dat hoe meer ek die waarheid probeer oopskryf, hoe meer vind ek uit dat ek lewe. Dat ek elke dag meer lewendig word, dat die hare op my nek regop staan van aksie, dat die pepertrane van hartseer oor onreg my oë brand, dat my maagspiere kramp van lag oor die vreugde, dat die sout snot van huil oor die tragedie in my mondhoeke kruip, dat ek op my tande klem van Antjie Krog se woede. Ek skryf omdat ek lewe, sodat ek lewe, maar bo alles omdat God lewe. Om dankie te sê vir Sy groot genade en omdat ek nie meer onder die verdoemenis van daardie oersonde staan nie. Omdat Hy vir my God kom word het deur Sy Seun te stuur. Omdat hy my verlos het van my obsessie met myself en my Self. Omdat ek nie meer hoef te dink dat ek so belangrik is nie. Omdat ek uitgevind het hoe belangrik God is, hoe belangrik ander mense is, ‘n kind langsaan, ‘n plakker in Houtbaai, ‘n werker in die straat, ‘n tannie in die ouetehuis, ‘n verlore siel, ‘n ateïs, ‘n heiden, ‘n Moslem. Nie ek nie. Ek is van geen belang nie, daarom skryf ek. Omdat ek uitgevind het hoe bevrydend dit is om van myself verlos te wees. Dit maak nie saak of ek ryk of beroemd is nie. Dit maak slegs saak of ek aan ander die waarheid van die geskenk van die lewe kan gee, ook deur my skryfwerk. Of ek die waarheid van onreg aan die kaak kan stel. Of ek kan vertel van die waarheid van mooi en lelik, van lekker en swaarkry, van lewe en doodgaan want dit is alles God se werk. Deur op God te fokus verander my perspektief op alles. Onthou dat “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” (Johannes 1:1) Mens kan dit selfs letterlik opneem. Alle letterkunde begin en eindig by God, “so get over your self”. Dit sluit jou ook in, Joan Hambidge. O ja, net in geval en voor jy vergeet, jou ook, Koos Marais


Views: 2

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van NG Tygerpoort om kommentaar te lewer!

Join NG Tygerpoort

© 2012   Created by NG Tygerpoort.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service